GESKIEDENIS 1STE SPAN KLEREDRAG
Dit is ’n ongeskrewe reël!
Jy sal nooit ’n Oud Affie 1e span speler met sy 1e span trui aan by ’n Affie wedstryd sien nie!
1921 - 1951
1952 - 'n NUWE TRUI!
In 1953 verander die atletiek frokkie na dieselfde ontwerp as die 1e span trui. Die ander sport soorte se 1e spanne volg in 2013!
1953 - 1997
1e SPAN TRUI en BORGE
Jy sal nooit ’n Oud Affie 1e span speler met sy 1e span trui aan by ’n Affie wedstryd sien nie!
1921 - 1951
- In 1921 speel die 1e span met ’n wit kortbroek en vanaf 1923 – 1929 speel die 1e span met ’n swart kortbroek en donkergroen trui. Vanaf 1930 speel die 1e span met ’n wit kortbroek.
- Dit lyk op die spanfoto’s voor 1952 dat die truie en kouse party jare van mekaar verskil het. Hetsy die truie donkerder of ligter van kleur was of breer of dunner strepe gehad het. Johan Viljoen (52/53) en Flip Olivier (43/44) bevestig dat al die spanne vanaf o/14 tot 1e span voor 1952 met dieselfde truie gespeel het.
1952 - 'n NUWE TRUI!
- Laat in 1951 het Theo Vorster met die idee vorendag gekom dat Afrikaans Hoër Seunskool se 1ste rugbyspan in ‘n unieke rugbytrui moet speel. ‘n Trui wat anders as die ander Affies spanne s’n sou lyk en wat elke Affie rugbyspeler se droom sou word. Tot op daardie stadium het al die rugbyspanne in dieselfde trui uitgedraf.
- Einde 1951, in die biologie laboratorium, het 4 lede van die volgende jaar se 1 ste span, Theo Vorster, Johann Snyman, Ockie Spruyt en Hans Wilsenach met opgewondenheid die ontwerp van die nuwe trui bespreek. Theo se voorstel was dat hulle die Tukkies se trui as inspirasie gebruik. Theo het kuns geneem en hy het begin met sketse van hoe die nuwe trui kan lyk. Johann vertel hoe hulle drie om Theo gestaan het terwyl die ontwerp ontwikkel is, en hoe hulle almal met idees vorendag gekom het.
- Hans stel toe voor dat sy ma ‘n trui maak van die finale skets waarmee almal gelukkig was. Sy ma het toe op hulle kombuistafel die oudste broer se wit rugbytrui (hy het vir Oostelikes se o/19 span gespeel – toevallig in ‘n wit trui) gebruik en linte op die trui gewerk volgens die ontwerp en skets van die vier spanmaats.
- Theo het op sy fiets gespring en met hierdie trui na Dippenaar en Reyneke (‘n winkel wat destyds Affies se klere verskaf het) gery in die middestad van Pretoria. Mnr. Dippenaar was bereid om te help en het gereël dat Veka, ‘n vervaardiger van klere, so ‘n eerste voorbeeld trui maak. Theo het met groot opgewondeneid die trui gaan haal.
- Die 4 manne was in hulle skik met die trui en het dit gewys aan hulle afrigter, mnr. Kriek en aan die destydse skoolhoof, Dr. Potgieter. Albei was ingenome met die nuwe unieke trui en Dr. Potgieter het die Affies 1ste span se nuwe trui formeel goedgekeur. Veka het die truie gemaak en so kon die 1ste spanlede die nuwe trui betyds aanskaf vir die 1952 rugbyseisoen.
- Die trui van 1952, ontwerp deur die vier destydse spanmaats, word steeds 70 jaar later gebruik! Die Witbulle speel vandag steeds met dieselfde trots as die oorspronklike 1952 ontwerpers van die unieke wit Affies eerste span trui!
- Die skrywe (gedateer Mei 2022) oor die ontstaan van die Affie 1ste span trui is saamgestel uit die gesamentlike herinneringe van Theo Vorster(flank) Johann Snyman(vleuel) en Ockie Spruyt(loskop stut) almal trotse lede van die 1952 eerste span!
- Met die 1952 reunie in 2022 ontvang Theo Vorster(links) en Johann Snyman (regs) elkeen 'n replika van die 2022 trui van die skool met die nommer op van die onderskeie posisie wat hulle in gespeel het. Sien foto van die twee aan die einde van die skrywe.oor die 1e span trui.
In 1953 verander die atletiek frokkie na dieselfde ontwerp as die 1e span trui. Die ander sport soorte se 1e spanne volg in 2013!
1953 - 1997
- As jy gekies is vir die 1e span in die vroeër jare het die skool jou ’n brief gegee wat jou toestemming gegee het om een te gaan koop by Uniewinkels. Spelers moes self vir hulle truie betaal.
- Johannes Bingle van die ’67/’68 1e span vertel die volgende: ”Ek onthou dit goed, want tydens my eerste wedstryd vir die 1e span vroeg in die ’67 seisoen (dit was ’n Woensdagmiddag teen Menlopark op ons tuisveld) het my splinternuwe trui wat destyds by Uniewinkels gekoop is, ’n groot skeur gekry. Daar was nie sprake van vervanging van die trui deur my ouers nie (om twee keer die uitgawe aan te gaan nie). My ma het dit na die wedstryd herstel en ek moes die res van die twee seisoene (67 &68) met die toegewerkte trui speel”.
- 1972 - Die 1e span van 1972 speel in die Administrateurs Beker finaal teen Nelspruit in groen truie op Loftus Versveld.
- Skoolwapen - Verskyn permanent op die linkerbors van die trui sedert 1981. In die periode voor '81 lwil dit voorkom of dit spelers se keuse was indien hulle dit op hulle truie wou aanbring of nie. Die uitsondering was 1972 en 1974 toe dit op al die spelers se truie was.
- 1979 - Vanaf '79 verskaf die skool die 1e span truie en kry die spelers wat ’n sekere aantal wedstryde per jaar gespeel het ’n trui aan die einde van die seisoen. Die vereistes waarvolgens ’n speler ’n 1e span trui ontvang het, het oor die jare verander.
- 1986 - Met die inisiatief van Poerie van Rooyen (afrigter van die 1986 1e Span) word ‘n 1e Span das ontwerp en toegeken aan 1e span spelers in 1986. Die vereiste was oorspronklik dat ‘n speler 3 wedstryde moes speel om ‘n das te ontvang. Dit het met die speel van reserwes verander en huidiglik moet ‘n speler 7 keer ‘n wedstryd begin voordat hy ‘n das ontvang. Ander sportsoorte en kultuur aktiwiteite het daarna gevolg met eiesoortige dasse.
- 1996 - Met die instelling van 'n 1e span dinee aan die einde van die '96 seisoen word dit 'n tradisie dat elke 1e span speler se trui aan hom persoonlik oorhandig word aan die einde van die seisoen.
1e SPAN TRUI en BORGE
- 1998 - Die 1e span word vir die eerste keer formeel geborg en die borg (Mr Price) se logo/pet verskyn op regter bors van die 1e span trui.
- 1999 - Rugby kouse was al die jare vir al die spanne dieselfde gewees met die strepe geel, maroon, groen, maroon, geel. In 1999 het die Mr Price geborgde kouse van die 1e span verkeerdelik verander na geel, maroon, groen, geel, maroon. Tot op hede is dit nie reggestel nie.
- 2001 - Die 1e span speel vir die vyftigste jaar in die wit trui.
- 2002 - Die 1e span trui het kortmoue vanaf 2002.
- 2003 - Die borg „Mr Price“ se naam verskyn voorop die trui aan die onderkant van die strepe op die voorkant. Die materiaal van die trui is die nuwe gladder materiaal (airflex).
- 2006 - Die 1e span speel vir die eerste keer in ’n alternatiewe trui teen HTS Middelburg in hulle eerste wedstryd van die jaar omdat die truie vir die jaar nog nie beskikbaar was nie. Sover ek kan vasstel was dit die eerste keer in die geskiedenis, tensy dit nodig was a.g.v. die kleure wat met truie van opponente bots soos bv. Eldoraigne, HTS John Vorster, ens.
- 2008 - Die Mr Price pet is nou op die regter mou.
- 2009 - Die Mr Price pet verskyn nie meer op die trui nie.
- 2010 - Die Mr Price naam verskuif na die bokant van die strepe aan die voorkant en 'n Mr Price Sport logo op die regtermou. Met AHS se 90 ste verjaardag in 2010 het K600 replikas gemaak van die 1921, 1e span trui. Dit is opvallend dat die huidige skool trui wat onwerp betref amper dieselfde is as die 1e span trui van 1921 met slegs ʼn kleur verskil van die strepe. Die strepe was ook nie op die moue van die 1921 trui nie.Strepe everskyn op die moue van die trui vanaf 1925. Foto van die 1921 replika verskyn hieronder.
- 2011 - Die 1e span trui is kraagloos en die kortmou is korter met geen wit gedeelte na die strepe nie.
- 2012 - Die naam Mr Price voorop die trui word vervang met "Mr Price SPORT". Die Mr Price Sport logo op die mou verdwyn met die naam Mr Price op die skouers links en regs.
- 2012 - Die 1e span speel in die wedstryd teen Grey College in 2012 met wat op die oog af lyk na nuwe groen kouse met geen strepe nie. Sonder die medewete van die afrigters het die spelers besluit om die kouse te vou dat dit net groen was sonder strepe. Hulle verduideliking na die tyd was dat hulle gedink het dit lyk mooi sonder die strepe!
- 2016 - Borgskap van Mr Price kom na 19 jaar tot 'n einde
- 2017/18/19 - Borge Wildswinkel en Morgan Beef
- 2020,21,22,23 - Borge Afgri en Giflo
- 2024 - Borge Afgri en Megamaster
*****************************************************************************************************************************************